Abstract taken from Opsommings, Bloemfontein, 1971, pp. 86-87:
Die Sisteem Damara bestaan uit 'n basale opeenvolging van hoofsaaklik kwartsiet, wat deur 'n groot dikte van skis oorlê word. Ondergeskikte lae van marmer kom in die boonste gedeeltes van die skis voor. Hierdie gesteentes behoort almal tot die Serie Khomas van die Fasies Swakop. Die kwartsiet vorm noordoosstrekkende rûe, met skis in die valleie daartussen. Die skis en kwartsiet verteenwoordig dus onderskeidelik sinklienes en antiklienes in 'n sin- en antiklinorium. Die sedimentêre gesteentes het intense regionale metamorfose ondergaan en die hoogste graad van die groenskisfasies is bereik. Ten minste twee periodes van vervorming kan onderskei word: die f1-periode het noordoosstrekkende isoklinale plooiing, waarvan die plooivlakke na die suidooste hel, tot gevolg gehad; die plooivlakke van die f2-periode bet 'n oostelike strekking en 'n steil helling na die suide. As gevolg van hierdie herplooiing het opvallende koepelvormige strukture met 'n oos-noordoostelike strekking ontstaan
In die diep gedeeltes van die sinklinale trôe het grootskaalse anatektiese smelting van die sedimente plaasgevind. Die produk hiervan is die Salemgraniet, waarvan ten minste drie ouderdomme, naamlik 'n sintektoniese, 'n laattektoniese en 'n natektoniese lase onderskei kan word, elkeen met sy eie kenmerke. Die indringing van die Salemgraniet het lokaal kontakmetamorfose tot gevolg gehad, sodat 'n polimetamorfe effek dikwels verkry word. Die laattektoniese graniet kom as 'n opvallende diapiriese struktuur voor en gee die indruk dat die sedimente om hierdie struktuur gevou is. Die aard van die dagsome van graniet varieer aansienlik. Hoewel dit hoofsaaklik koppe vorm wat prominent in die laagliggende gebied vertoon, steek die graniet in baie gevalle kwalik bokant die oppervlakte van die sandvlaktes uit
Hoewel interne pegmatiete wydverspreid in die Salemgraniet voorkom, is dit slegs die tindraende pegmatiete in die omgewing van Uis wat enige ekonomiese waarde besit. Hierdie liggame het 'n algemene noordoostelike strekking. Hulle is onreëlmatig-silindries van vorm en duik teen 'n vlak hoek na die noordooste. Die gevolgtrekking word gemaak dat die strukturele kontrole vir die inplasing van die pegmatietliggame deur die interaksie van die f2-periode verskaf is. Die pegmatiet self is egter aan die natektoniese graniet verwant
lndringings van doleriet in die vorm van gange, maar ook as opvallende tregtervormige intrusies, kom ook voor. Geen bevredigende verklaring vir laasgenoemde strukture het uit die ondersoek voortgevloei nie
Oppervlakafsettings in die vorm van kalkreet, puin en sand kom oor groot areas voor, sodat dagsome dikwels as redelik tot swak beskryf moet word